Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 13 NOVEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Gerald Smith, ZS6IG, ’n goeie vriend van die Sasolburg en Vaaldriehoek amamateurradioklubs en mentor van baie radioamateurs op Woensdag 9 November stil geraak het.

Ons innige meegevoel aan sy eggenote Kathy, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

MARITIEME MOBIELE NET BETROKKE BY REDDING VAN BEMANNING

UITSLAE VAN RADIOAMATEUREKSAMEN BINNEKORT BEKEND

CEPT GAAN ’n NUWE 500 kHz TOEKENNING BY WRC-12 VOORSTEL

WETENSKAPLIKES SPEEL TAFELTENNIS MET ENKELE ELEKTRONE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

MARITIEME MOBIELE NET BETROKKE BY REDDING VAN BEMANNING

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Net het gehelp met die redding van die seiljag ‘Wizard’ wat aan Gerry Boshoff, ZS6SUN, behoort het. Die jag het ’n houer onder die water getref. Gerry het gereelde kontak met die SA Maritieme net gehou wat Graham Griggs, ZS2ABK, in staat gestel het om noodsaaklike inligting aan die maritieme owerhede beskikbaar te stel. Die bemanning is gered en aan boord van ’n tenkskip geneem wat uit sy roete gestuur is na die plek waar die seiljag gesink het.

Mark Steed, die diensbestuurder van die MRCC, het ’n brief van dank van die vader van een van die bemanning aan Graham gestuur. Daarin staan: “Vanuit die MRCC bedank ons jou vir jou waardevolle bydrae wat bygedra het tot die sukses van hierdie reddingspoging. Dit is ’n verdienstelike diens wat jy voorsien en ons verhouding word hoog op prys gestel en deur die MRCC waardeer”.

Skakel vanoggend om 10:00 in op Amateurradio Vandag vir ’n volledige verslag deur Graham, ZS2ABK. Gaan na www.sarl.org.za en kies ‘Amateur Radio TODAY’ uit die linkerhandse spyskaart vir besonderhede oor frekwensies en uitsaaitye.

UITSLAE VAN RADIOAMATEUREKSAMEN BINNEKORT BEKEND

Die uitslae van die RAE sal vroeg hierdie week bekend raak met die roepseine teen die einde van die week. Luisteraars mag onthou dat OKOSA gedurende Julie vanjaar die administrasieprosedure vir die uitslae van die RAE gewysig het. Die volgende bulletin is uitgereik: “Die SARL en OKOSA het weer die modereringsproses vir die radioeksamen onder oë geneem. Na elke eksamen sal ’n moderator deur die SARL aangestel die eksamenresultate nagaan en kontroleer dat al die punte reg bereken is en dat al die vrae reg gemerk is. In ’n multikeuse-eksamen is ’n antwoord slegs reg of verkeerd, die eksaminator het geen diskresie nie. Daar is egter van tyd tot tyd gevalle waar die kandidaat baie hoë punte in een afdeling behaal maar net te kort skied om die minimum van 50% in die ander afdeling te behaal. Dit is in sulke gevalle dat die moderator die antwoordstelle nagaan en ’n aanbeveling aan OKOSA doen”.

Met hierdie nuwe prosedure kontroleer OKOSA die uitslae voor publikasie daarvan en dit neem gevolglik meer tyd in beslag, maar dit is uiteindelik die mees regverdige manier om die eksamenuitslae te hanteer. Dog, wanner die kandidate hulle roepseine teen Vrydag ontvang, mag hulle op die lug gaan en hoef hulle nie te wag vir die ontvangs van ’n offisiële brief, sertifikaat of lisensie nie.

CEPT GAAN ’n NUWE 500 kHz TOEKENNING BY WRC-12 VOORSTEL

Die Europese Konferensie van Pos- en Telekommunikasie-administrasies, beter aan amateurs bekend as die C-E-P-T sê dat dit beplan om ’n voorstel by die 2012 Wêreld Radiokommunikasiekonferensie vir ’n nuwe toekenning naby 500 kHz aan amateurradio te ondersteun.

Tydens die vergadering van die CEPT se WRC-2 Konferensie-Voorbereidingsgroep wat van 1 tot 4 November in Boekarest, Roemenië, gehou is, is ’n Europese Gemeenskaplike Voorstel vir ’n 5 Watt Effektief Uitgestraalde Krag tussen 472 en 480 kHz aan die amateurdiens toegeken word, aanvaar. Die nuwe band sal op ’n sekondêre basis met ander spektrumgebruikers wees.

Die Europese Konferensie van Pos- en Telekommunikasie-administrasies sal nou die voorstel aan die Internasionale Kommunikasie-unie aanstuur en hoop dat dit in die agenda vir die WRC-12 ingesluit sal word. Dit moet daarop gelet word dat hierdie internasionale groep die blokstem van 48 nasies verteenwoordig aangaande die mosie vir die daarstelling van die 500 kHz amateurradioband.

WETENSKAPLIKES SPEEL TAFELTENNIS MET ENKELE ELEKTRONE

Wetenskaplikes van die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk het ’n verbasende graad van beheer oor die mees fundamentele aspek van ’n elektroniese kring nl. die beweging van ’n elektron van een plek na ’n ander, bereik. Navorsers in die Cavendish laboratorium het ’n enkele elektron langs ’n draad beweeg deur dit meer as 60 keer heen en weer te ‘stamp’, baie soos die balletjie in tafeltennis. Die resultaat van die navorsing mag ’n toepassing in kwantumrekenaartegniek vind deur byv. ’n ‘kwantumgrepie’ tussen die prosesseerder en die geheue oor te plaas.

Veronderstel jy is by ’n party en jy wil na die ander kant van die vertrek gaan om daar met iemand te praat. Soos jy loop moet jy om mense beweeg wat loop, dans of net sommer in jou pad staan. Jy mag ook stop om vriende langs die pad te groet en teen die tyd dat jy die ander kant van die vertrek bereik, het jy vergeet wat jy wou sê. Sou dit nie lekker wees om tot bokant die mense opgelig te word en by jou bestemming neergelaat te word nie?

Op ’n soortgelyke manier volg elektrone, wat ’n stroom deur ’n geleier dra, nie ’n direkte pad van een end na die ander end nie, maar volg hulle ’n ingewikkelde sigsagpatroon. Hierdie is ’n probleem met ’n elektron wat inligting oordra aangesien hy neig om dit te ‘vergeet’, of, meer wetenskaplik, die kwantumstatus verloor verband.

In hierdie werk kan ’n enkele elektron in ’n klein gaatjie, genoem ’n kwantumpunt, net onder die oppervlak van ’n stukkie Galliumarsenide (GaAs) vasgevang word. ’n Kanaal lei na ’n ander, leë, punt 4 mikron (miljoenste van ’n meter) langsaan. Die kanaal is in ’n hoër energievlak as die omliggende elektrone. ’n Baie kort klankimpuls (slegs ’n paar biljoenste van ’n sekonde lank) word dan oor die oppervlakte, verby die punt, gestuur. Die gepaardgaande golf van elektriese potensiaal tel die elektron op wat dan in die kanaal na die ander punt beweeg en daar gevang word. ’n Klankimpuls wat uit die ander rigting gestuur word, stuur die elektron terug na die beginpunt en die proses word herhaal. Die elektron gaan heen en weer soos ’n tafeltennisbal. Sarsies van tot 60 skote is al behaal voordat iets verkeerd loop.

Hierdie is ’n tegnologie wat kwantumrekenaars moontlik maak. Baie werk word wêreldwyd verrig om hierdie tipe rekenaar te ontwikkel wat sekere komplekse probleme baie vinniger as die klassieke rekenaar behoort op te los. Min pogings is egter nog aangewend om verskillende onderdele soos prosesseerder en geheue met mekaar te verbind. Alhoewel eksperimente nognie getoon het dat elektrone hulle kwantumstatus ‘onthou’ nie, is dit heel waarskynlik tog so. Dit sou hierdie metode ’n kandidaat maak om kwantumgrepe van inligting in ’n kwantumkring van ’n kwantumrekenaar te verskuif.

KLUBNUUS

Op 19 November 2011 kom die Overberg Amateurradioklub by die QTH van John, ZS1DI, en Judy, ZS1JEG, in Stanford byeen vir die HF-velddag sowel as die klub se AJV. Die klub sal ook die gasheer wees vir die Kaapse tak van die Antieke Draadloosvereniging en lede van daardie tak sal van hulle radios ten toon stel en ook gebruik.

Vir amateurs met surplus toerusting, neem dit saam vir verkoop uit die kattebak.

Om 11:00 sal ’n kort vergadering gehou word. Na die vergadering sal daar ’n bring-en-braai wees, wat tot die aand laat te duur vir die wat gaan oornag. Neem asb. julle braaigereedskap en ook braaihout saam. Dromme sal beskikbaar wees.

Besoekers is meer as welkom, gaan en neem deel aan die pret oor die naweek. Kontak Andre, ZS1AZ, by 028 514 2018 of 072 729 1680, of vir Sam, ZS1OR, by 028 316 1470 of 073 250 0428 vir meer inligting of vir padaanwysings.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonvlek 1339 besig is om stadig te vergaan maar dat hy nog steeds oor genoeg energie beskik om M-klas fakkels kan voortbring. Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 127, nog 'n nuwe hoogtepunt vir hierdie siklus.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP openinge van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 November - Pears HF-kompetisie 12:00 tot 16:00 UTC.
19/20 November - SARL-velddagkompetisie.
27 November - GG-been van 80 m klubkompetisie.
27 November - Digitale kompetisie.
30 November - Laaste dag vir insending van logstate vir PEARS HF DX-ekspedisie.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003